05:25 - 05:55

RSG Landbou

Met Lise Roberts

Nou op die lug: 05:55 - 06:00

Vroegoggendgedagte

Volgende: 06:00 - 07:00

Monitor

Met Udo Carelse

07:00 - 09:00

Op en Wakker

Met Gustav Greyling , Renske Jacobs

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Vers en klank 11 Mei 2021

11 Mei 2021

Luister na verse uit Marlise Joubert se tiende digbundel, disteltyd, uitgegee deur Protea. Joubert neem in hierdie bundel bestek op haar lewe: die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dis gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.


Vers en klank 4 Mei 2021

4 Mei 2021

Akademikus en digter Bernard Odendaal  gesels oor sy nuutste digbundel, NOOTVAT. KWASHAAL. STAPEL. In sy eerste bundel sedert hy in 2007 met Onbedoelde land gedebuteer het, besin Bernard Odendaal oor woordkuns, Afrikaans en die voortbestaan daarvan; gedenk hy die heerlikheid én verganklikheid van die mens, die natuur en die liefde; registreer hy maatskaplike verwording. ’n Verlore jeugwêreld en vriende word onthou; daar word gedink aan kinders wat in diaspora verkeer. Stemminge, toonaarde en digvorme wissel mekaar af. Joan Hambidge som haar resensie oor hierdie bundel kort en kragtig op: “Slim en ontroerend.” Sy sê voorts: “Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word ‘n vals klank geuiter nie. Dit is sterk kwashale wat hier van stapel gestuur word.” Of soos Marlies Taljaard haar resensie begin: ” ‘n Deurwinterde bundel van ‘n meesterdigter.”


Vers en klank 27 April 2021

27 April 2021

Die aktrise, aktivis, dramaturg, teaterskepper en nou ook digter, Veronique Jephtas, gesels oor haar debuutbundel, Soe rond ommie bos. Veronique verteenwoordig die kraakvars stem van ‘n nuwe generasie Afrikaanssprekendes,  die sogenaamde “born frees”, gebore ná 1994, wat grootgeword het in ‘n land met meer geleenthede vir almal, maar waar die wonde van die verlede halsstarrig bly sweer. Soe rond ommie bos is die kreatiewe voortsetting van ‘n ryk tradisie protespoësie in Afrikaans. Jephtas verbeel haar ‘n gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop, en so in die gees van Vryheidsdag is dit uiters gepas om hierdie gedigte te hoor.


Vers en klank 20 April 2021

20 April 2021

Hennie Meyer praat oor sy digbundel, Winkel van wanklanke.  Dis sy debuutbundel, en hy skram nie weg daarvan om met groot figure in die Afrikaanse digkuns en internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel, wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees, bevraagteken.


Vers en klank 13 April 2021

13 April 2021

Roeline Daneel lees gedigte voor uit Riana Scheepers se debuutbundel, Met die taal van karmosyn. Dis in 2001 uitgegee deur Human & Rousseau nadat sy alreeds goed gevestig was as prosaskrywer in die Afrikaanse literêre wêreld. Haar Katrina-stories het haar in ander opsigte ‘n gewilde outeur gemaak, terwyl sy as rubriekskrywer in die dagpers breë bekendheid geniet het.


Vers en klank 6 April 2021

6 April 2021

Jani Greeff lees van haar gunsteling gedigte uit haar hoërskooldae voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Antjie Krog, Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers, Totius, N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.


Vers en klank 2 April 2021

2 April 2021

Herdenk Goeie Vrydag saam met ons digters. Marion Holm, Kay Smith en Anrich Herbst is die voorlesers. Jy kan uitsien na gedigte deur Susan van Zyl, I.L. de Villiers, Arina Prinsloo, Lucas Malan, Ingrid Jonker, Cas Vos, Lina Spies, Linda Rousseau, Adam Small, W.E.G. Louw, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw.


Vers en klank 30 Maart 2021

30 Maart 2021

Die rapper en digter Churchil Naudé lees van sy gedigte voor, en vertolk van sy gedigte saam met musikante Riku en Jackie Lätti. Die gedigte kom uit sy nuwe digbundel Drol innie drinkwater.  Theunis Engelbrecht skryf op die flapteks: Churchil Naudé vlek nie net ongeregtighede, blinde vooroordele, maatskaplike probleme en die stommiteite van die mensdom vlymskerp oop nie, maar drink ook deur tot diep in die hart van gewone mense se swaarkry en drome. Die stories wat hy vertel bly by ‘n mens spook lank nadat jy dit gelees en gehoor het.


Vers en klank 23 Maart 2021

23 Maart 2021

Martelize Kolver lees gedigte voor uit Susan van Zyl se debuutbundel Sporofoor. Vir Susan grens misterie, soos ook humor, aan die absurde en dit is hierdie realiteit waarbinne spore uitgewys word wat deur die geskiedenis van die mensdom getrap is. En waar daar vanuit hierdie perspektief gekyk kan word na hedendaagse, poëties gestruktureerde, reddingsboeie.


Vers en klank 16 Maart 2021

16 Maart 2021

André Weideman lees gedigte voor uit die bekroonde digter Louis Esterhuizen se elfde digbundel Die gladde stiltes in glas. Nini Bennett skryf in haar resensie:  “Dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die bundel konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is. En of die digter se boustof nou klip, grond, rots, bouvalle, holtes grond of geogliewe is, hy skep poësie daaruit. Selfs die oerprosesse van verwering en erosie word veredel in dié verse. In geheel gesien: Die gladde stiltes in glas is ’n kosbare – nee, noodsaaklike – toevoeging tot die poësieliefhebber se boekrak.” En Louise Viljoen: “Die gladde stiltes van glas is ‘n sterk bundel wat intrigeer vanweë die rykmetafore, die emosionele diepgang en die weiering om komplekse gegewens tot enkelvoudighede te reduseer. Dit is ‘n bundel wat met elke herlees nuwe perspektiewe sal open.”


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: