21:10 - 22:00

Kapityt!

Met Sue Pyler-Slabbert

Nou op die lug: 22:00 - 23:00

Countryklanke

Met Jacques Arendt

Jacques Arendt

Volgende: 23:00 - 23:10

Nuus & Weer

23:10 - 23:59

Tjil

Met Phil Loots

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Vers en klank 23 Maart 2021

23 Maart 2021

Martelize Kolver lees gedigte voor uit Susan van Zyl se debuutbundel Sporofoor. Vir Susan grens misterie, soos ook humor, aan die absurde en dit is hierdie realiteit waarbinne spore uitgewys word wat deur die geskiedenis van die mensdom getrap is. En waar daar vanuit hierdie perspektief gekyk kan word na hedendaagse, poëties gestruktureerde, reddingsboeie.


Vers en klank 16 Maart 2021

16 Maart 2021

André Weideman lees gedigte voor uit die bekroonde digter Louis Esterhuizen se elfde digbundel Die gladde stiltes in glas. Nini Bennett skryf in haar resensie:  “Dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die bundel konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is. En of die digter se boustof nou klip, grond, rots, bouvalle, holtes grond of geogliewe is, hy skep poësie daaruit. Selfs die oerprosesse van verwering en erosie word veredel in dié verse. In geheel gesien: Die gladde stiltes in glas is ’n kosbare – nee, noodsaaklike – toevoeging tot die poësieliefhebber se boekrak.” En Louise Viljoen: “Die gladde stiltes van glas is ‘n sterk bundel wat intrigeer vanweë die rykmetafore, die emosionele diepgang en die weiering om komplekse gegewens tot enkelvoudighede te reduseer. Dit is ‘n bundel wat met elke herlees nuwe perspektiewe sal open.”


Vers en klank 9 Maart 2021

9 Maart 2021

Amor Tredoux lees gedigte voor uit Eunice Basson se tweede digbundel, By die dag, wat verlede jaar verskyn het. Dit handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van die kleine moment. Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit – klein stillewes en portretstudies van stadstuine, voëls, ’n Life Esidimeni-slagoffer, Dimitri Tsafendas, ’n transitorooftog, Poppie van der Merwe, en kring wyer uit na die honde van Delhi, die papawerbruid van Afghanistan en Alan Kurdi. Soos te verwagte van ’n kunshistorikus tree die digter ook op natuurlike wyse met die beeldende kunste in gesprek. Elke gedig is gestroop, maar dawer lank by die leser.


Vers en klank 2 Maart 2021

2 Maart 2021

Digter Ernest Loth lees gedigte voor uit sy debuutbundel, Uit hierdie Valkenburg, wat hy in die grendeltyd geskryf het. Dr. Jan Daniels skryf in die voorwoord: Uit hierdie Valkenburg ontleen sy titel aan die openingsreël uit Ingrid Jonker se gedig, Ontvlugting. En dit is nie om dowe neute nie. Beide Loth en Jonker deel herinneringe aan Valkenburg – maar elkeen verwoord ‘n eie unieke ervaring daarvan. Dit is moeilik om die gedigte te lees sonder dat dit die leser intens ontroer. Die digbundel spreek tegelyk van waardering en ontluistering, van lief en leed, en van belydenis. Maar dit spreek ook van maskers wat die lewe soms op die mens afdwing – ongevraagd en onverdiend.


Vers en klank 23 Februarie 2021

23 Februarie 2021

Die literator, dosent, resensent en digter Bernard Odendaal is in die ateljee, en ons luister na gedigte oor vrugte. Jy kan uitsien na gedigte deur Ina Rousseau, D.J. Opperman George Weideman, T.T. Cloete, Lucas Malan, Uys Krige, Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, Wilma Stockenström, Marlene van Niekerk, Sheila Cussons en Boerneef.


Vers en klank 16 Februarie 2021

16 Februarie 2021

Gideon Lombard lees gedigte voor uit die bundel LIEFDE, MISKIEN deur Herman de Coninck, vertaal deur Daniel Hugo. Die Vlaamse digter Herman de Coninck (1944-1997) staan bekend as die man was sy volk geleer het om poësie te lees. Hy was bekend as digter, kritikus en joernalis. Kenmerke van sy werk is die alledaagse tema, die verrassende gesigshoek, die praatstyl, die oorspronklike beeldspraak en versagtende ironie. In die inleiding van ‘n latere bundel, Die Lenige Liefde, noem Daniel Hugo hom: “die onvergelyklike digter van die vergelyking”, en noem dat daar in sy versamelde gedigte nie minder as 18 gedigte staan wat met die woord “zoals” begin.


Vers en klank 9 Februarie 2021

9 Februarie 2021

Wessel Pretorius lees gedigte uit Marius Crous se vierde digbundel, Tussenganger, wat in 2020 uitgegee is. Louis Esterhuizen skryf: Tussenganger is ‘n digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van geykte opvattings en veral verwagtings. (Dis natuurlik die grootste uitdaging vir mense! “We will rather be ruined than changed” soos W.H. Auden gesê het.) En dan skryf Louis: Nog selde was TS Eliot se uitspraak  “Genuine poetry moves before it is understood” só van toepassing as met hierdie gedigte.


Vers en klank 2 Februarie 2021

2 Februarie 2021

Ons neem afskeid van RSG se geliefde Margot Luyt, alhoewel haar invloed en mentorskap van vele asook haar kenmerkende stem altyd met ons sal bly. Jy kan van Margot se gunsteling gedigte en gedigte wat ons aan haar laat dink, hoor. Verse deur César Vallejo (vertaal deur Uys Krige), D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Antjie Krog, Gertruida Kamfer, George Weideman, Petra Müller, Sheila Cussons, Clinton V. du Plessis, Boerneef en N.P van Wyk Louw. Die voorlesers is Nic de Jager, Chris van Niekerk, Simoné Benjamin, Dean Balie, Joanie Combrink, Susanne Beyers, Daniel Hugo, Bernard Odendaal, Pieter van Zyl, Anrich Herbst, De Klerk Oelofse, Anna-Mart van der Merwe, Shirley Ellis en Johann Nel.


Vers en klank 26 Januarie 2021

26 Januarie 2021

Die skrywer, boekeredakteur, vervaardiger, aanbieder en nou ook digter, Gerard Scholtz, lees haikoes voor uit sy nuwe bundel, Stipstaar. Dit is uitgegee onder die druknaam Fluisterbos. Dit bestaan uit 122 haikoes in die tradisionele Japanese vorm, en reis deur ’n zen-landskap van die ontstaan van alle dinge af en strek van ‘n teer verwondering oor die natuur en liefde, die mens se plek in die kosmos, aftakeling en verwoesting van emosies en landskap, tot ‘n verlange om alles weer nuut en die mens en natuur weer een te maak soos oorspronklik.


Vers en klank 19 Januarie 2021

19 Januarie 2021

Richard van der Westhuizen lees gedigte voor uit die bekroonde digter Johann de Lange se dertiende bundel, Die meeste sterre is lankal dood, asook na ‘n paar van die kwatryne ingesluit in sy bundel, Duimnaelsketse, wat beide in 2020 verskyn het.


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: