23:10 - 23:59

Tjil

Nou op die lug: 23:10 - 23:59

Deurnag (Sondag)

Volgende: 06:00 - 06:10

Nuus & Weer

06:10 - 06:55

Oggendstemming

Met Tharien Oosthuizen

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Vers en klank 12 Januarie 2021

12 Januarie 2021

Luister na uittreksels uit die digter, sangeres en musikant Jolyn Phillips se nuutste bundel Bientang. Dis ’n epiese gedig waarin die raaisel van Bientang, ’n Khoi Strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het, ondersoek word. Elodi Troskie skryf in ‘n artikel in die onafhanklike webjoernaal Klyntji: “In haar teks verken Phillips die legende van Bientang, die laaste Strandloper, en gee so gestalte aan ’n deel van die geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie.” Jolyn lees self die gedigte voor.


Vers en klank 5 Januarie 2021

5 Januarie 2021

Ons bring hulde aan digters wat in 2020 oorlede is. Ons groet hulle, maar neem hulle verse met ons saam die nuwe jaar in. Jy kan uitsien na gedigte deur Jeanne Goosen, M.M. Walters, Gisela Ulyatt en Christine Barkhuizen-le Roux. Susanne Beyers lees die gedigte voor.


Vers en klank 29 Desember 2020

29 Desember 2020

Nic de Jager lees gedigte uit Cas Vos se mees onlangse bundel, Beskut teen vrese, ‘n uiters relevante bundel vir die tydsgees waarin ons leef.


Vers en klank 25 Desember 2020

25 Desember 2020

Ingeperk vir ons … a thrill of HOPE, the WEARY world REJOICES … so lui die woorde uit die bekende O Holy Night. En hoe vuisvoos is ons wêreld nie na hierdie jaar nie! Hoe desperaat vir ‘n sprankie hoop. God – die Een wat onbegrensd is, wat sonder perke is – het gekies om ingeperk te word vir ons. Hy het, in soveel woorde (maar veel meer met sy dade) vir ons kom sê: Dit is, alles in aggenome, goed om mens te wees. Dit is allerverskriklik, maar dis ook ontsagwekkend. En dít is ons hoop! Dit is hoekom hierdie moeë mensdom, selfs na ‘n jaar soos hierdie, steeds kan sê: God is mét ons. Chris van Niekerk, Simoné Benjamin, Dean Balie en Juanita Swanepoel lees die gedigte voor.


Vers en klank 22 Desember 2020

22 Desember 2020

Luister na gedigte en toonsettings uit Christine Barkhuizen-le Roux se laaste bundel, Skynskadu. Christine is op 18 November 2020, op haar 61ste verjaardag, oorlede. Joanie Combrink lees die gedigte voor, en die toonsettings word uitgevoer deur Babette Viljoen, Olga Leonard en Trudie Prinsloo.


Vers en klank 15 Desember 2020

15 Desember 2020

Johann Nel bring hulde aan die digter, dramaturg en satirikus, M.M. Walters, wat vanjaar in die ouderdom van 91 oorlede is. Johann lees van Walters se gedigte voor, en vertel meer van hierdie merkwaardige mens wat al by geleentheid as “ketter” afgemaak is, en by ‘n ander geleentheid as “profeet” vereer is. ‘n Mens sou hom kon beskryf as die hofnar van die Afrikaner-samelewing.


Vers en klank 8 Desember 2020

8 Desember 2020

Luister na gedigte uit Lynthia Julius se debuutbundel, Uit die kroes. Julius was die wenner van die AVBOB-digkunskompetisie in 2018. Bernard Odendaal skryf: “As postapartheid-nasaat van ‘Ouma Xhau’ kom vertolk hierdie Namakwalander en Kimberliet in ‘n sprankelende Omgangsafrikaans die vlees en bloed van ‘bruin’ wees in Suid-Afrika. Sy loop haal dit in die Kaapse Kompanjiestyd met sy slawernyvergrype, en loop met raaktraptreë deur die eeue daarmee om dit in vandag se steeds rasbehepte dae te kom staanmaak.  Jy gaan regop sit, jou mond gaan waarskynlik oophang, ander kere gaan jy jou kop wil vasgryp, plek-plek sal jou lagspiere rimpel, of jou traankliere stuiptrek. Onbewoë sal jy nié bly nie.” En sy is maar net 25.


Vers en klank 1 Desember 2020

1 Desember 2020

Luister na ‘n tweede aflewering van gedigte en gesprekke met wyle George Weideman, digter, skrywer en akademikus en geliefde mens. Sy woorde hou aan om “doepa vir die droefte” te wees en die onderhoudende manier waarop hy kan gesels en waarhede in storieformaat deel, is helend. Jy kan ook toonsettings en voorlesings van Weideman se gedigte deur Annalise Wiid, Helena Conradie en Francois le Roux (die HA!man) hoor.


Vers en klank 24 November 2020

24 November 2020

Luister na gedigte en gesprekke met wyle George Weideman, digter, skrywer en akademikus en geliefde mens. Sy woorde hou aan om “doepa vir die droefte” te wees, en die onderhoudende manier waarop hy kon gesels en waarhede in storieformaat deel, is helend. Jy kan ook toonsettings en voorlesings van Weideman se gedigte deur Annalise Wiid, Helena Conradie en Francois le Roux (die HA!man) hoor.


Vers en klank 17 November 2020

17 November 2020

Laurinda Hofmeyr, veral bekend vir haar toonsettings van gedigte, is by geleentheid “die wonderkind van toonsettings” genoem. Sy gesels oor haar proses, die gedigte wat haar inspireer en ons luister na ‘n paar van haar mooiste toonsettings.


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: