Maklike Blaardeeg (genoeg vir 1 groot tert)
200 g meel
4 ml sout
200 g koue botter – sny in klein blokkies
ongeveer 100 ml yswater
Pastei
1,5 – 2 kg beesvleisskenkel of rib
45 ml olyfolie
2 groot uie,grof gekap
1 heel knoffel
3-4 wortels, skoongemaak en fyngekap
2 selderystokkies, fyngekap
1-2 rissies,opsioneel
750 ml rooiwyn
250 ml beesvleisaftreksel
3 lourierblare
2 takkies roosmaryn
400 g bruin sampioene
125 ml vars ertjies, opsioneel
2 x 100 g tamatiepasta
15 ml meel
15 ml suiker
sout en peper na smaak
Blaardeeg:
Sif die meel en sout in 'n groot bak.
Gebruik 'n mes om die yskoue botter in klein stukkies in die koekmeel te sny.
Breek die botter met 'n mes in die meel totdat kleiner stukkies botter vorm. Die botterstukke moet nog herkenbaar wees.
Voeg 'n lepelvol koue water op 'n slag by die meelmengsel en gebruik dan 'n mes om die water in die deeg te sny.
Bring die meel-, botter- en watermengsel bymekaar met jou hande. Dit is baie belangrik om nie die deeg te oorwerk of te knie nie.
Skraap die mengsel op 'n stuk kleefplastiek, vorm dit in 'n reghoek, bedek dit goed en sit dit in die vrieskas om vir 15 minute te rus.
Plaas die deeg op ’n meelbestrooide werkoppervlak, druk dit saam om 'n reghoekige vorm te maak. Bestrooi liggies met meel en rol uit.
Rol die deeg in EEN rigting slegs om 'n reghoek te vorm met verhoudings 1: 3 breedte tot die lengte. Hou die rande reguit en netjies.
Vou die boonste derde van die deeg se lengte oor na die onderkant en die onderste derde oor die boonste derde.
Gee die deeg 'n kwart draai (links of regs) en rol weer drie keer die lengte uit. Vou soos voorheen.
Herhaal 5-6 keer. Bestrooi elke keer liggies met meel om te verhoed dat dit vassit.
Vou soos voorheen bedek met kleefplastiek en rus 15 minute in die vrieskas.
As jy gereed is om die tert te maak, rol die deeg tot 3 mm dik, in 'n reghoek om 'n tertbak te pas.
1 eier om die deeg te verf voor dit gebak word
Pastei:
Verhit die oond tot 180 ° C.
Verhit die olie in 'n gietysterpot en verbruin die vleis in sarsies. Verwyder die vleis uit die pot. Soteer die uie, wortels en seldery in dieselfde pot tot die uie deursigtig is. Voeg die vleis terug in die pot. Voeg nou die wyn, aftreksel, rissies, knoffel (heel), lourierblare en roosmaryn by. Geur met sout en peper. Plaas die deksel op die pot en sit die pot in die oond en kook die vleis vir 2 uur. Teen hierdie tyd moet die vleis sag wees en van die been af val. Verwyder al die bene en druk die sagte knoffel uit die velle. Plaas die pot terug op die stoof en bring dit tot kookpunt. Kyk of daar vloeistof in die pot is. As die vleis op hierdie stadium droog lyk, voeg 'n bietjie water of aftreksel by.
Meng die meel en suiker in die tamatiepasta en roer dit in die pot. Plaas die heel sampioene in die pot en laat dit weer kook. Jy hoef nie die sampioene heeltemal te kook nie, hulle sal 'n kans kry om onder die deegkombers verder te kook. Onthou net, jy wil 'n sappige bredie hê. Geur na smaak. Skep die bredie in 'n reghoekige tertbak en laat heeltemal afkoel. Voeg die ertjies by die bredie.
Voorverhit die oond tot 200 ° C.
Om seker te maak dat deeg nie aan die tertbak vassit nie, verf die rand van die tertbak met geklitste eier. Plaas die deeg oor die bredie en sny die oortollige deeg om die rand af. Krimp die rand met jou vingers of 'n vurk om 'n patroon te maak. Vir 'n lekker opgepofde, goudbruin pastei, borsel die deeg met eierwit en bak vir 20-25 minute.
Bedien met gestoofde perskes of groente van u keuse.
NS: As die maak van blaardeeg te oorweldigend is, koop 2 rolletjies blaredeeg en maak die pastei.
* Verpligte velde
Aanbieders
E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
Bel Ons
(011) 714 2702
Navrae
info@rsg.co.za