Sukkel-sukkel om NDP-doelwitte te bereik

Die Nasionale Ontwikkelingsplan is in 2012 met groot opgewondenheid begroet deur ontleders en kommentators. Die plan is destyds deur al die partye in die parlement aanvaar. Die destydse minister in die presidensie, Trevor Manuel, het die plan as die bloudruk beskryf om teen 2030 armoede en ongelykheid uit te wis. Die Nasionale Beplanningskommissie is ‘n onafhanklike kommissie wat die president en die kabinet moet adviseer oor die langtermynontwikkeling van Suid-Afrika. Die huidige kommissie het sy tienjaar-oorsig van die plan bekend gemaak, en in hierdie stadium lyk dit of geen van die doelwitte wat gestel is, teen 2030 behaal sal word nie. Ons praat met een van die kommissie se kommissarisse, dr. Morné Mostert. Hy is ook ‘n toekomskundige verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.