Donderdagaand: In ‘Die oorlogklavier’ word geheime ontrafel

’n Klavier wat al meer as ’n eeu in die Swanepoel-gesin se huis staan, word die sleutel tot ’n verhaal uit die Anglo-Boereoorlog. Die skoolgaande James ontdek ’n geskiedenis van sterk vroue, slim planne, oorlewing en liefde oor kontinente heen… En uiteindelik ook die oorsprong van sy eie naam en rooi hare.

Wat het ’n dertienjarige rugbyliefhebber, ’n vals ou klavier en ’n Vrystaatse plaas tydens die Anglo-Boereoorlog met mekaar te doen? In Die Oorlogklavier, wat op Donderdag 12 November 2026 om 20:00 in RSG se Radioteater uitgesaai word, ontdek ’n onwillige jong pianis dat sy gesin se klavier veel meer as ’n oefeninstrument is.

Dié radiodrama deur Christien Neser, onder regie van Frieda van den Heever, verweef ’n hedendaagse seun se opstand teen klavierlesse, met ’n familieverhaal oor oorlewing, vindingrykheid en die bande tussen geslagte.

James se held is Cheslin Kolbe. Hy wil rugby speel, maar sy pa se voorwaarde is duidelik: solank hy wil rugby speel, moet hy klavierles neem. Vir James is die gesin se ou klavier weinig meer as ’n frustrasie. Waarom is sy pa so gesteld daarop dat hy juis op dié vals instrument moet oefen?

Wanneer sy ouers oorsee gaan en sy ouma Madel by hom kom bly, kry hy ’n antwoord wat hom ver buite die grense van hulle huis in Bloemfontein neem. Sy vertel hom van Varkensfontijn, waar Molly Swanepoel, haar dogter Helen en hulle huishulp Stefina in 1900 die onsekerheid van oorlog moet trotseer. Om die swaar klavier te beskerm teen buitmaking deur Britse troepe, verg sterk arms, slim planne en deursettingsvermoë.

Die verhaal is gewortel in familie-oorlewerings uit Neser en haar man se families. Die klavier wat die drama geïnspireer het, is ’n Wiesner uit 1893 wat vandag nog in haar huis staan. Haar oupa het dit kort voor die Anglo-Boereoorlog met die opbrengs van ’n jaar se wolskeersel in Oos-Londen gekoop. Dit is per ossewa na sy plaas in die Suid-Vrystaat vervoer.

Hoewel die plaashuis tydens die oorlog afgebrand is, het die klavier behoue gebly. Dit is later aan Neser se ma bemaak, en uiteindelik het al drie Neser-kinders daarop leer speel. Ook die reëling dat seuns klavierles moes neem solank hulle wou rugby speel, kom uit haar eie gesinslewe.

Vir Van den Heever het die drama eweneens ’n persoonlike aanknopingspunt gehad. Haar familie besit ook ’n geliefde ou Duitse klavier, en die regieproses het haar laat wonder wat dié instrument alles moes deurleef het. Sy beskryf dit as ‘ geleentheid om saam met ervare akteurs én drie jongmense vir wie dit ’n eerste radiodrama was, te werk, as ’n groot vreugde.

Voor vlnr: Frieda van den Heever, Eben Schoeman, Joanie Combrink, Sebastian Swanepoel, Kay Smith en Nelia Gerber. Agter vlnr: Rolanda Marais en Jacques Bessenger

Die rolverdeling bestaan uit Rolanda Marais as Molly Swanepoel, Nelia Gerber as Helen Swanepoel, Jacques Bessenger as kaptein John Harrison, Kay Smith as Stefina Molapo, Eben Schoeman as Dirkie de Wet, Joanie Combrink as Madel en Sebastian Swanepoel as James.

Beethoven se Für Elise en die tradisionele Ierse lied Molly Malone verbind die twee tydperke deur musiek. Terwyl James sy familie se geskiedenis leer ken, ontdek hy ook waar sy naam en sy rooi hare vandaan kom — en waarom ’n ou klavier se waarde nie bloot aan sy klank gemeet kan word nie.

Eben Schoeman teenoor Rolanda Marais, met Nelia Gerber in die agtergrond.

Luister weer na “Seeskulp” op Radioteater

RSG se Radioteater bied op Donderdag 5 November 2026 om 20:00 Seeskulp aan, ’n radiodrama deur Marius de Bruyn met regie deur Luan Jacobs.

Die verhaal bring ’n letterkundedosent en ’n jong student bymekaar in ’n onverwagse vriendskap waarin siekte en die verbeelding met mekaar verweef raak. Dit vra hoe ons na mekaar luister wanneer woorde tegelyk ’n skuilplek en ’n manier van toenadering kan wees.

SEESKULP deur Marius de Bruyn
Kategorie: Radioteater 2026-11-05

Seeskulp ondersoek ’n onverwagse vriendskap en die geheime wat mense van mekaar weerhou. Die gedruis van die see, alledaagse klanke, musiek en stilte skep ’n luisterwêreld waarin werklikheid en verbeelding inmekaarvloei. Dit is ’n verhaal oor broosheid, aanvaarding en wat gebeur wanneer ons werklik na mekaar luister. Eleanor, ’n letterkundedosent met ’n terminale breingewas, ontmoet Jonathan, ’n eksentrieke jong student, wat ’n roman skryf. ’n Komplekse vriendskap ontwikkel. Hy vertel haar van sy boek, en sy maak oop oor haar onsekere toekoms. Dan rig Eleanor ’n vreemde versoek aan Jonathan wat albei se lewe ingrypend verander… Die regisseur is Luan Jacobs. Die spelers is Mandi du Plooy Baard, Donovan Peterson, Charlie Bougenoun, Lizelle Pike, Erin Patience en DeWaal Stemmet.

Die storie

Eleanor is met ’n terminale breingewas gediagnoseer. Wanneer sy Jonathan ontmoet, ’n eksentrieke jong student wat aan ’n roman werk, begin ’n komplekse verhouding ontwikkel. Hy vertel haar van sy boek; sy maak mettertyd oop oor haar siekte en haar onsekere toekoms. Namate hulle band verdiep, rig Eleanor ’n vreemde versoek aan Jonathan wat albei se lewens ingrypend verander.

Die inspirasie vir die drama lê onder meer in De Bruyn se belangstelling in die verhouding tussen dosente en studente, veral binne die wêreld van kreatiewe skryfwerk. Hy het draaiboekskryf aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer en was gefassineer deur die wisselwerking tussen lektore en studente. In Seeskulp ondersoek hy ook die verhoudings tussen skrywers en die spanning wat ontstaan wanneer twee mense geheime van mekaar weerhou.

Die titelmotief het ontstaan uit sy soeke na ’n beeld van iets wat sigbaar is, maar terselfdertyd iets verberg. ’n Seeskulp lê oop en bloot op die strand; eers wanneer iemand dit optel en teen ’n oor hou, word die gedruis hoorbaar. Hierdie beeld bied ’n vertrekpunt vir ’n drama waarin luister meer beteken as om bloot iemand se woorde te hoor.

Voor :Lizelle Pike, DeWaal Stemmet. Agter: Erin Patience, Luan Jacobs, Mandie du Plooy Baard, Donovan Pietersen en Charlie Bouguenon.

Regisseursnotas

Jacobs sê hy was van die begin af gaande oor die teks en die manier waarop De Bruyn die mense agter die situasie vasvang. Vir hom was dit noodsaaklik om die verhaal met deernis, eerlikheid en respek te benader. Sy regie fokus op die mens binne die diagnose, met ruimte vir die karakters se vrees, verset en broosheid, asook hulle soeke na aanvaarding.

Dié benadering geld ook vir die spel. Volgens Jacobs het die keuse van die geselskap ’n belangrike deel van die regieproses gevorm, juis omdat die karakters soveel nuanses bevat. Hy beskryf die akteurs se benadering as sensitief en vol respek. Die doel was om gestalte te gee aan mense met volledige lewens, eerder as om hulle bloot deur hulle omstandighede te definieer.

Klank vorm ’n besonder belangrike deel van die produksie. Navorsing oor ’n glioblastoom en die uitwerking daarvan het die klankontwerp help rig. Die oseaanmotief word verbind met alledaagse geluide: ’n koffiemasjien, reëndruppels, omgewingsklank en bewegende water. Hierdie verskillende vorme van gedruis word teen die strome en golwe van die see gebalanseer en verklank die ontwrigtende uitwerking van Eleanor se siekte.

Stilte kry ook ’n eie betekenis. Jacobs gebruik dit doelbewus binne die verhaal se emosionele verloop, sodat luisteraars bewus kan word van wat tussen klanke en gesprekke gebeur. Die atmosferiese musiek vloei op plekke só nou met die klankontwerp saam dat die grens tussen die twee vervaag. Elders help musiek om bepaalde ruimtes en die verhaal se fantasiewêrelde te vestig.

Hierdie wisselwerking tussen werklikheid en verbeelding maak Seeskulp ’n verhaal wat die moontlikhede van radio benut. Sonder sigbare gebare of dekor moet stemme, musiek en klank die verhouding tussen Eleanor en Jonathan dra. Vir luisteraars lê die uitnodiging daarin om aandagtig te luister: na die stories wat die karakters vertel, die dinge wat hulle verswyg en die betekenis wat tussenin begin vorm aanneem.

Die spelers

Die rolverdeling sluit Mandi du Plooy Baard, Donovan Peterson, Charlie Bougenoun, Lizelle Pike, Erin Patience en DeWaal Stemmet in. Saam vertolk hulle Seeskulp.

Luister weer na Deel 1 en 2 van “Stinkhout”

RSG bied met trots die tweedelige radiodrama Stinkhout aan – ’n aangrypende verhaal oor ’n pa en seun, uitdagende verhoudings, herinneringe en die stille getuienis van ’n enorme witstinkhoutboom.

Die drama – wenner van die 2025 ATKV-Woordveertjie vir ’n dramateks – is deur die geliefde en onlangs oorlede Eben Cruywagen vir radio verwerk. Dit was sy laaste dramawerk vir RSG en word uitgesaai op 22 Oktober en 29 Oktober om 20:00.

Stinkhout deur Philip Rademeyer (Deel 1)
Kategorie: Radioteater 2026-10-22

Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle bestek opneem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.

Stinkhout deur Philip Rademeyer (Deel 2)
Kategorie: Radioteater 2026-10-29

Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle bestek opneem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.

Stinkhout bring van die mees legendariese, sowel as die mees opwindende nuwer name in Afrikaanse drama saam: Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock – ‘n rolverdeling wat dit as ‘n voorreg beskryf om deel te wees van die radioverwerking, veral omdat die verhoogstuk reeds groot aandag op verskeie kunstefeeste getrek het.

Skrywer Philip Rademeyer vertel dat die stuk ontstaan het toe iemand op ’n filmstel opgemerk het dat Frank Opperman en Wilhelm van der Walt “nogal soos pa en seun lyk”. Daardie toevallige opmerking het die vonk geword vir ’n storie wat diep in die pa‑seun‑verhouding delf:

In Stinkhout keer Louw terug na sy gesin se kleinhoewe ná sy broer se skielike dood. Daar word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap soos hulle mekaar toets, blameer en konfronteer, terwyl die waarheid bruis binne ’n enorme witstinkhoutboom wat al dekades lank alles op dié familiegrond aanskou.

Regisseur Joanie Combrink sê die grootste uitdaging was om die verhoogstuk se toonaard getrou na radio oor te dra: “Dit was vir my baie belangrik om ’n atmosfeer in die ateljee te skep waarin die spelers veilig en ontspanne kon voel. Die radioverwerking is dubbel die lengte van ’n gewone radiodrama, en vir Frank Opperman en Wilhelm van der Walt was dit belangrik om getrou te bly aan hul vertolkings in die verhoogstuk.”

Die drama se emosionele diepte en die behoefte aan rou-eerlike spel het die produksie tot ’n besondere ervaring gemaak – een wat ook die nalatenskap van Eben Cruywagen met waardigheid eer.

Stinkhout is die laaste teks wat hy ooit vir RSG verwerk het. Sy werk het oor jare heen ’n onuitwisbare merk op Afrikaanse radiodrama gelaat. Hierdie uitsending is daarom nie net ’n drama nie; dit is ’n huldeblyk aan ’n man wie se uitsaaikennis, penvaardigheid, stem en visie die medium verryk het.

Stinkhout, Deel 1 word Donderdag 22 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai en Deel 2 Donderdag 29 Oktober om 20:00.

Die beste van Afrikaanse radioteater vind jy, soos altyd, op RSG.

Luister weer: Ou liefdes en ongemaklike herinneringe sorg vir vermaak in “Pieter se pa”

’n Voorgenome troue, en vrae oor ’n jong man se herkoms: dit is die bestanddele van Pieter se Pa, wat op Donderdag 15 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai word. Dié radiodrama deur Niel Steenkamp, onder regie van Thomas van Niekerk, beloof humor rakende die herinneringe wat ’n mens soms eerder veilig in die verlede sou wou hou.

PIETER SE PA deur Niel Steenkamp
Kategorie: Radioteater 2026-10-15

Herman is in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou twyfel egter oor Pieter se herkoms. Wanneer sy met foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn kom, moet hy vinnig verduidelik dat al daardie romantiese afsprake op fiasko’s uitgeloop het. Die regisseur is Thomas van Niekerk, en die rolverdeling sluit in Dirk Stolz, Esther van Waltsleben, Mila Guy, Chloe van Rooyen, Ane Fourie, Estelle Grobler en De Klerk Oelofse.

Herman is baie in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou deel egter nie sy entoesiasme nie en twyfel oor Pieter se herkoms. Wanneer sy foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn bring, moet hy vinnig verduidelik. Volgens Herman het al daardie romantiese afsprake immers op fiasko’s uitgeloop. Maar om die verlede te verduidelik, kan maklik ’n verleentheid op sy eie word.

Steenkamp beskryf die verhaal as ’n storie oor daardie kere toe ’n mens ’n gek van jouself gemaak het, maar later daaroor kan lag wanneer jy die gebeure oorvertel. Hierdie herkenbare vertrekpunt gee die drama sy humoristiese inslag, die afstand tussen hoe ons onsself graag onthou en die stories wat opduik wanneer iemand anders die regte vrae begin vra.

Die rolverdeling sluit in: Dirk Stolz as Herman, Esther van Waltsleben as Martie, Estelle Grobler as Lisa en De Klerk Oelofse as Pieter. Mila Guy, Chloe van Rooyen en Ane Fourie vertolk onderskeidelik die meisies in Herman se verlede. Saam bring hulle die karakters en Herman se ongemaklike herinneringe na die radioluisteraar.

Vir Van Niekerk was Pieter se Pa sy tweede radiodrama as regisseur. Hy beskryf die produksie as ’n ander genre as sy eerste en wys daarop dat die groter rolverdeling nuwe uitdagings meegebring het. Sommige akteurs moes ook meer as een rol vertolk, wat besondere aandag aan die onderskeid tussen karakters vereis.

Van Niekerk het die musiek lig en opgewek gehou om by die humoristiese tema aan te sluit. Vir hom help musiek om atmosfeer en afwagting te skep en vorm dit deel van die groter geheel. Dié benadering ondersteun ’n verhaal waarin herinneringe, verduidelikings en romantiese mislukkings die ruimte vir komedie skep.

Steenkamp is afgetree en skryf ook soms kortverhale. Hy neem sedert 2002 aan RSG se Radiodramaskryfkompetisie deel en vertel dat dit vanjaar die tiende jaar is wat een van sy stories uitgesaai word. Sy skryfwerk gaan voort: hy werk reeds aan sy inskrywing vir 2027, hoewel die idees voorlopig nog vorm kry terwyl hy by die venster sit en uitkyk.

Pieter se Pa nooi luisteraars om saam te lag oor die verleenthede wat mettertyd goeie stories word. Wat gebeur wanneer ’n dogter se trouplanne ’n pa se jong dae weer onder die vergrootglas plaas? En hoe oortuigend klink sy verduidelikings wanneer die foto’s reeds op die tafel is? Die verlede laat hom moeilik wegpak.

Agter: De Klerk Oelofse, Mila Guy. Middel: Thomas van Niekerk, Dirk Stolz, , Esther van Waltsleben, Ane Fourie, Estelle Grobler. Voor: Chloe van Rooyen.

Regisseursnota

Die hele opname en alles wat daarmee gepaardgaan was vir my ‘n voorreg en ek is RSG en almal betrokke baie dankbaar vir die geleentheid.

Die skrywer is blykbaar 80 jaar oud en wat ‘n voorbeeld is dit nie vir ons almal nie. Om ‘n radiodrama aan te pak op so ‘n goeie ouderdom!!! Om ‘n radiodrama te skryf is beslis nie maklik nie en daar gaan baie werk en sweet in so ‘n projek.

Hierdie was my tweede radiodrama waarvan ek die regie behartig het en dit was ‘n heel ander genre as my eerste drama, Misverstand.

Die rolverdeling was ook groter en sommige van die akteurs moes twee rolle vertolk, wat nogal uitdagend kan wees vir ‘n akteur. Die rolverdeling is nogal vir my belangrik om ‘n geskikte persoon vir elke rol te kry en ek was baie dankbaar toe die akteurs ingestem het om die produksie saam met my aan te pak. Dis wonderlik om met die talentvolle akteurs te werk, want elkeen bou saam aan ‘n suksesvolle produksie.

Die musiekkeuses het ek ook lig en opgewek gehou om by die humoristiese tema te pas. Musiek is net so belangrik vir ‘n drama, want dit skep atmosfeer en afwagting en dra by tot die groter prentjie.

Oor die algemeen was dit vir my ‘n heerlike, leersame en positiewe ervaring en ek hoop die luisteraars en almal betrokke geniet die drama.

Luister weer: “Tuimelduif” bring humor, verlies en vergifnis na ons Radioteater

’n Sewentigste verjaardag bring ’n familie weer bymekaar, maar agter die viering wag ou wonde.

Tuimelduif, Morné Malan se tragikomiese familiedrama en merietepryswenner van die 2025 RSG-Radiodramaskryfkompetisie, word op Donderdag 8 Oktober 2026 om 20:00 in RSG se Radioteater uitgesaai.

Amor Tredoux behartig die regie, met Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers in die rolverdeling.

TUIMELDUIF deur Morné Malan
Kategorie: Radioteater 2026-10-08

‘n Tweeling broer en suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hulle ma se sewentigste verjaardag te vier. Saam word die Van Rensburgs gekonfronteer deur nuwe familie-uitdagings soos progressiewe Alzheimer se siekte, ou verwyte wat weer kop uitsteek en onverwerkte verlies wat hulle dwing om moeilike waarhede in die oë te kyk. Die verhaal is ‘n herontdekking van die krag van vergifnis en aanvaarding, en wat dit beteken om mekaar regtig nodig te hê. Die regisseur is Amor Tredoux. Die rolverdeling sluit in Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers. TUIMELDUIF is ‘n merietepryswenner van die 2025-Radiodramaskryfkompetisie.

Die storie

Die verhaal speel in Mosselbaai af, waar Dawid sy tweelingsuster, Jana, ná jare terugnooi om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Wat na ’n naweek van blomme, koek en frikkadelle klink, word ’n ontmoeting met alles wat die Van Rensburgs oor die jare ongesê gelaat het. Hul ma se progressiewe Alzheimer se siekte stel nuwe eise aan die gesin, terwyl ou verwyte en onverwerkte verlies die broer en suster se verhouding opnuut onder druk plaas.

Intussen vind hul pa ontvlugting in sy belangstelling in duiwe en raak hy al hoe meer geheg aan ’n bosduif wat op sy balkon kom nesmaak. Teen hierdie agtergrond ondersoek Tuimelduif die verskil tussen ’n huis en ’n tuiste. Kan ’n mens terugkeer na die plek waar jy laas gelukkig was? En wat gebeur wanneer die mense en verhoudings wat daardie plek betekenis gegee het, intussen verander het?

Malan benader dié vrae met humor en deernis. Die drama erken hoe diep families mekaar kan seermaak, maar ook hoe hulle mekaar deur verlies en verandering kan dra. Die beeld van die tuimelduif, wat deur sy tuimelary weer koers vind, sluit aan by die verhaal se temas van rou, tweede kanse en die moed om hulp te aanvaar. Onder die botsings en stiltes lê ’n eenvoudige, kwesbare erkenning: “Ek het jou nodig.”

Die inspirasie

Die inspirasie vir die drama kom uit die persoonlike omstandighede van Malan se vriende en familielede. Die besef dat ouers nie altyd daar sal wees nie, bring dikwels nuwe verantwoordelikhede, skuldgevoelens en besluite waarvoor niemand heeltemal voorbereid voel nie. Met Tuimelduif wil hy aan luisteraars die versekering gee dat hulle nie alleen met dié ervarings staan nie. Om ondersteuning te vra en te aanvaar, word deel van die verhaal se beweging na vergifnis en aanvaarding.

Vir Malan was radiodrama die ideale medium om hierdie intieme verhaal te vertel, en die RSG Radiodramaskryfkompetisie het hom die geleentheid gebied om daarmee te eksperimenteer. Hy is ook die skrywer van verskeie Afrikaanse romans, waaronder Minder as water. Sy eerste roman, Suiderkruis, is uit ’n verhoogteks verwerk en was die debuutwenner in die Sanlam en Insig Groot Romanwedstryd. Met Tuimelduif keer hy terug na die verweefde emosies en verhoudings van die familiedrama.

Regisseursnota

Tredoux sê die teks het haar reeds met die eerste lees opgewonde gemaak. “Dis snaaks. Dis rou. Dis raak,” beskryf sy haar aanvanklike reaksie. Vir haar spreek die werk van ’n skrywer wat sy verhaal ken en uit die hart skryf. Die uitdaging was om ’n klankwêreld te skep waarin die humor en patos mekaar ondersteun, en waarin die karakters se broosheid ruimte kry om deur te klink.

Musiek vorm ’n belangrike deel van Tredoux se benadering. Sy het opnames van die jazzmusikant Brad Mehldau gekies, met grepe uit Blackbird, When It Rains, Little Person en Dusty McNugget vir die oorgange tussen tonele. Cassi Lowers se klanklandskap dra verder tot die produksie se atmosfeer by. Tredoux vertel dat die volle emosionele trefkrag tydens naproduksie na vore gekom het, toe die fyn spel, musiek en klank saamgevloei het en haar tot trane geroer het.

Tuimelduif nooi luisteraars om saam met die Van Rensburgs oor versorging, en die moontlikheid van ’n nuwe begin na te dink. Die verjaardagviering word ’n geleentheid om moeilike waarhede raak te sien, en te vra wat dit verg om werklik vir mekaar daar te wees. Dit is ’n verhaal vir elkeen wat al gewonder het hoe om nader te kom wanneer die lewe mense uitmekaar trek.

Die spelers

Zenobia Kloppers
Johann Nel en Jacques Bessenger
Karli Heine en Jacques Bessenger
Agter vlnr: Morné Malan (skrywer), Jacques Bessenger, Joanie Combrink, Johann Nel, en Amor Tredoux (regisseur). Middel: Zenobia Kloppers. Voor: Karli Heine.
Agter vlnr: Morné Malan (skrywer), Jacques Bessenger, Joanie Combrink, Johann Nel, en Amor Tredoux (regisseur). Middel: Zenobia Kloppers. Voor: Karli Heine. Heel voor: Cassie Lowers

Ons blinknuwe radiodramaseisoen beloof 14 topklas Afrikaanse stories

Met skrywers wat hul storie ken, bied RSG se tweede radiodramaseisoen van 2026 ’n uiteenlopende versameling radioteaters waarin luisteraars ander mense en ook hulself sal herken.

Die nuwe seisoen begin op Donderdag 1 Oktober en word daarna word ‘n radiodrama  elke Donderdagaand om 20:00 op RSG uitgesaai. Luisteraars kan ook uitsien na ’n spesiale Kersdrama op Kersdag.

14 Nuwe Afrikaanse stories wag in RSG se radiodramaseisoen
Kategorie: Op en Wakker 2026-10-01

RSG se nuwe radiodramaseisoen skop vanaand af met nie minder nie as 14 Afrikaanse stories, wat wissel van familiegeheime en verlies tot humor, spanning en selfs kunsmatige intelligensie. Daar is bekende skrywers, bekende stemme én nuwe talent. Elke Donderdagaand wag daar ’n nuwe drama, en vanjaar is daar ook ’n paar besondere uitsendings soos Kanna hy kô hystoe van Adam Small. Ons praat hieroor met Estel de Beer, senior regisseur van drama en opvoedkunde by RSG.

RSG skop Donderdag 1 Oktober sy splinternuwe radiodramaseisoen af – ’n kragtige versameling van 14 uiteenlopende dramas wat opspraakwekkende temas, alledaagse uitdagings én tong‑in‑die‑kies stories aanpak. Die seisoen bied alles van familiegeheime, verlies, kinderontvoering, identiteit en geestesgesondheid, tot humor, nostalgie, futuristiese spanning en Kersfees‑betowering.

Die reeks bring van die mees bekroonde skrywers en regisseurs in Afrikaanse radio saam, met bekende name soos Herschelle Benjamin, Henriëtta Gryffenberg, Philip Rademeyer, Eben Cruywagen, Christien Neser, Sophia van Taak, Marius de Bruyn, Madeleine Venter, Almé Hugo, Maria Vos en Johan Rademan.

Op die rolverdeling verskyn ‘n hele rits bekroonde gunstelingakteurs sowel as kraakvars nuwe talent uit die jonger generasie – ’n seisoen wat die volle spektrum van Afrikaanse stemme vier.

Die radioteater seisoen open met, Joshlin – meer as ’n naam, geskryf deur Herschelle Benjamin en deur Henriëtta Gryffenberg vir die radio verwerk. ’n Ma word tydens ’n vreemde hofsaak in die hof van openbare mening met die verdwyning van haar elfjarige seun gekonfronteer. Die verhaal ondersoek kinderuitbuiting, mensehandel en die wyse waarop ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare oordeel oorgeneem kan word. Dit word op 1 Oktober uitgesaai. Lees meer oor dié drama hier.

Op 8 Oktober volg Morné Malan se Tuimelduif. ’n Tweelingbroer en -suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Progressiewe Alzheimer se siekte, en onverwerkte verlies dwing die Van Rensburg-gesin om moeilike waarhede in die oë te kyk. Dit is ’n verhaal oor wat dit beteken om mekaar werklik nodig te hê.

Niel Steenkamp se Pieter se pa bring op 15 Oktober ’n ligter blik op die verlede. Herman is verheug dat sy dogter met Pieter wil trou, maar wanneer sy vrou foto’s van meisies uit Herman se jong dae ontdek, moet hy vinnig verduidelik waarom elkeen van dié romantiese afsprake op ’n fiasko uitgeloop het. Dit is ’n humoristiese verhaal oor die dinge waaroor ’n mens jare later uiteindelik kan lag.

Op 22 en 29 Oktober word die tweedelige Stinkhout uitgesaai. Philip Rademeyer se verhaal is deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk. Ná sy broer se skielike dood keer Louw terug na die kleinhoewe waar hy grootgeword het en word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap, terwyl ’n enorme witstinkhoutboom as stille getuie staan van alles wat oor dekades op dié familiegrond gebeur het. Dit is ’n aangrypende verhaal oor ’n pa en seun wat mekaar probeer vind terwyl hulle rekenskap van die verlede gee. Cruywagen is vroeër vanjaar oorlede, en Stinkhout was die laaste teks wat hy vir RSG verwerk het. Die uitsending daarvan is daarom ook ’n besondere viering van sy werk en sy  kosbare nalatenskap  aan die Afrikaanse radio.

Marius de Bruyn se Seeskulp volg op 5 November. Eleanor, ’n letterkundedosent wat met ’n terminale breingewas gediagnoseer is, ontmoet Jonathan, ’n eksentrieke jong student wat ’n boek skryf. Namate ’n komplekse vriendskap tussen hulle ontwikkel, rig Eleanor ’n vreemde versoek aan hom – een wat albei se lewens vir altyd kan verander.

In Die oorlogklavier deur Christien Neser word luisteraars op 12 November op ’n reis deur tyd geneem. ’n Klavier wat al meer as ’n eeu in die Swanepoel-gesin se huis staan, word die sleutel tot ’n verhaal uit die Anglo-Boereoorlog. Die skoolgaande James ontdek ’n geskiedenis van sterk vroue, slim planne, oorlewing en liefde oor kontinente heen… En uiteindelik ook die oorsprong van sy eie naam en rooi hare.

Sophia van Taak se Halfpad daar word op 19 November uitgesaai. Retha is ’n vrou in haar veertigs wie se senuwees begin uitrafel. Werksdruk en ander mense se verwagtinge laat haar aan haar lewenskeuses twyfel. Dan is daar ook die eise wat sy aan haarself stel.  Wanneer sy haarself in ’n emosionele put bevind, moet sy ’n manier vind om weer uit te klim.

Op 26 November volg Madeleine Venter se Kraaines. Terwyl Ronel haar oorlede pa se besittings oppak, ontdek sy ’n brief wat haar wêreld laat kantel. Haar soeke na antwoorde trek haar al dieper in ’n kraaines van familiegeheime en leuens in.

Die oudit deur Almé Hugo word op 3 Desember uitgesaai. Mieke begin haar eerste werk as ’n intern en probeer uit haar ouerhuis ontsnap, al bestaan haar kantoor hoofsaaklik op haar skootrekenaarskerm. Wanneer ’n joernalis antwoorde oor ’n finansiële bedrogsaak begin soek, lek die werkswêreld uit Mieke se rekenaar tot in haar woonstel en dreig dit om haar in te sluk.

Op 10 Desember pak luisteraars Die laaste kilometer saam met Maria Vos aan. Leon, ’n onuitstaanbare sakeman, hardloop halfmarathons in al nege provinsies ten bate van liefdadigheid. Terwyl sy heldedade noukeurig vir sosiale media gedokumenteer word, lyk die werklikheid agter die skerms egter heel anders. In die Noord-Kaapse hitte begin sy sorgvuldig opgeboude beeld en sy skynbaar perfekte lewe uitrafel.

RSG maak op 17 Desember ’n besondere argiefopname van Adam Small se Kanna hy kô hystoe weer hoorbaar. Small sou vanjaar 90 jaar oud geword het. Die drama, wat deur Johan Rademan vir die radio verwerk is, vertel die bekende verhaal van Kanna, Makiet se grootmaakkind, wat die geleentheid kry om deur opvoeding aan die onderdrukking en armoede van Distrik Ses te ontsnap. Vir die mense wat agterbly, word sy moontlike terugkeer ’n simbool van hoop.

Op 24 Desember volg nog ’n argiefhoogtepunt: Die laaste woord deur Lee Doubell, wat vroeër vanjaar oorlede is. RSG bring met dié uitsending hulde aan ’n skrywer wat met ’n besonder visionêre blik na die toekoms gekyk het. Die drama speel af in ’n futuristiese, apokaliptiese wêreld waarin Masjien en Vlees teen mekaar te staan kom. Met kunsmatige intelligensie wat vandag al hoe meer deel van die alledaagse lewe word, is die vrae wat die verhaal stel meer tersaaklik as ooit.

Luisteraars kan op Kersdag uitsien na die spesiale Kersdrama, Die grootste hiervan, deur Hendie Grobbelaar. Issie en Dries, ’n bejaarde egpaar wat tydelik in ’n woonstel woon, ontvang ’n virtuele assistent genaamd VERA as Kersgeskenk van hul uitvinder-dogter. Wanneer ’n verskriklike ramp op Oukersaand plaasvind, word vier mense se geloof en hoop tot die uiterste beproef terwyl VERA skynbaar buite haar programmering begin optree. Sal hulp betyds opdaag?

Die seisoen sluit op 31 Desember op ’n humoristiese noot af met Eugene Pienaar se Drie knape en ’n oujongnooi. Katram van die planeet Uririto, word per ongeluk na die aarde verplaas en beland in die agterplaas van die befoeterde Sarie. Kommunikasieprobleme, twee buitenaardse geregsdienaars en ’n onverwagse herontmoeting met ’n ou skoolkys lei tot ’n reeks skreeusnaakse situasies.

RSG se radioteater is waar Afrikaanse stories, legendes van radio en blinknuwe talent steeds koning kraai. Nooi almal wat jy ken om saam te luister, want niks bring mense bymekaar soos ’n goeie storie nie.

1e Drama van ons nuwe seisoen: Joshlin Smith radiodrama konfronteer kinderverdwyning, kollektiewe gewete en verantwoordelikheid op RSG

Volgens Missing Children SA verdwyn een kind elke vyf uur in Suid-Afrika. 77% van kinders wat as vermis aangemeld word, word gekry, maar 23% word òf nooit gevind nie, òf in kinderhandel gebruik, òf sterf.

Die verdwyning van Joshlin Smith het die land diep geruk – nie net oor die misterie nie, maar oor die skokkende moontlikheid dat ’n kind deur diegene wat haar moes beskerm, verraai kan word. Hierdie werklikheid vorm die hartklop van RSG se nuwe radiodrama, Joshlin – meer as ’n naam, wat op 1 Oktober om 20:00 begin.

Die drama, geskryf deur Herschelle Benjamin en vir radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg, kyk verder as die opslae. Dit vra die vraag wat elke Suid-Afrikaner moet beantwoord: “Wat doen ons om die kind in ons straat veilig te hou?”

In Joshlin – meer as ’n naam word ’n ma, Kendra Jacobs, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun, Isaac tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van publieke opinie en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het.

Teen die agtergrond van ’n gemeenskap wat vinnig oordeel, word die verhaal ook ’n ondersoek na die vele vorme van kinderuitbuiting en mensehandel, en na hoe maklik ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare verontwaardiging oorgeneem kan word. Joshlin – meer as ’n naam is uiteindelik ’n verhaal oor kinders wat verdwyn, die mense wat na hulle soek, en die vraag hoeveel van ons almal verantwoordelikheid dra vir die veiligheid van ’n kind.

Regisseur Johan Rademan beskryf hierdie werk as deel van ’n kreatiewe nalatenskap wat terugstrek na sy werk met ikoniese tekste soos Die kind is nie dood en Kanna hy kô hystoe. Hy sê die drama sluit aan by ’n generasie kunstenaars wat deur dekades heen die stemme van kinders, gemarginaliseerde mense en uitgelewerde gemeenskappe op die luggolwe laat leef. Vir hom is Joshlin ’n voortsetting van daardie stryd, ’n herinnering dat die veiligheid van ’n kind nooit net ’n privaat saak is nie, maar ’n kollektiewe verantwoordelikheid.

Rademan beklemtoon dat Herschelle Benjamin se teks “fyn en slim gestruktureer” is, en dat Henriëtta Gryffenberg se verwerking vir radio die stuk ’n aangrypende nuwe dimensie gee. Sy benut die medium se intimiteit en skep ’n magiese realisme waarin Ingrid Jonker se Die kind soos mis oor die Weskus deur die verhaal verweef word – ’n poëtiese, maar skerp herinnering aan die kwesbaarheid van kinders. Die kinderkoor, die klankwêreld en die spel skep saam ’n atmosfeer waarin die luisteraar nie kan wegkyk nie.

Vir Rademan is die drama ’n direkte oproep tot aanspreeklikheid: ‘n konfrontasie met die vraag hoeveel ons werklik doen om kinders te beskerm. “Joshlin is meer as ’n naam,” sê hy. “Sy is elke kind, en elke kind verdien ’n gemeenskap wat nie wegkyk nie.”

Wat akteurs betref, vra Joshlin iets anders, die humor van ‘n ou Tantetjie, Zenobia Kloppers. Die slegtes en goeies in n gemeenskap, vertolk deur verhoog en sepiesterre, Dean Balie, Denver Vraagom, Veronique Jephtas, Miche van Wyk en Kay Smith. 

Kendra en die 4 kinders moet inskakel by gesoute radiospelers met hul vuurdoop debute by die mikrofoon in ‘n radiodrama-ateljee.

’n Baie spesiale aspek van hierdie produksie is dat verskeie spelers hul oorsprong het in die Proscenium‑program, ’n internasionaal-erkende ontwikkelingsplatform vir jong akteurs. In dié drama word hulle êrens langs die pad kinders wat jou uitdaag, konfronteer en emosioneel geroer agterlaat.

Adri-Jo Waterboer se spel, waaraan ‘n groot gedeelte van Joshlin – meer as ‘n naam se sukses hang, lewer voortreflike en treffende werk. Bronwyn Damon, Bronwynne Neer, Chriswill Kotze en Leighmen Marshall se skole en tersiëre inrigtings moet hulle in watte toedraai. Hulle begryp, verstaan en vertolk uitmuntend.

‘n Drama soos dié vereis ook ‘n klankbaan met weldeurdagte emosie en gravitas. Louis van Rensburg het sy deel met Kanna gedoen, maar wie sou opstaan vir Joshlin en al die verlore kinders van die wereld? Niemand anders as Frazer Barry, wat ook musiek in die verhoogproduksie beskikbaar gestel het. Hy haak die knoop deur en lewer n skitterklankbaan, plek-plek ondersteun deur Jolyn Phillips, wat jou koue rillings sal gee.

Rademan sê dat min dramas só diep aangrypend is, selfs vanuit die regisseurstoel: “Jy kom gekneus, gewond en amper geestelik afgetakel aan die ander kant uit, met een van die kragtigste relevante en toepaslikste dramas van ons tyd in Afrikaans.”

Joshlin – meer as ’n naam word op Donderdag 1 Oktober 2026 om 20:00 op RSG uitgesaai.

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

Liesbet bring 3 trein-entoesiaste bymekaar. Die akteur Deon Lotz wat as kelner in sy jongdae diens gedoen het op stoomtreine, die byklanke-operateur Frikkie Wallis wat langs ‘n treinspoor grootgeword het, en Leon van Nierop wat ook langs ‘n treinspoor mens geword het, en ‘n paar keer as kind nog in stoomlokomotiewe gery het. Hy het ook as student tussen Johannesburg en Stellenbosch op sulke treine in die vroeg sewentigs gery, ses mense per kompartement!

Met Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word die herinneringe van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld met ‘n stoomtrein na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is.

Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar.

Die idee is gebore toe Leon die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat hy in sy navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Leon van Nierop het ook die regie van Liesbet behartig en beskryf dit as die moeilikste tegniese produksie wat hy nog onderneem het.

Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.

Liesbet deur Leon van Nierop, Donderdagaand 25 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Liesbet neem die luisteraar terug na die dae van stoomtreine wanneer ‘n afgeleefde stoker en ‘n seun wat aan disleksie ly, wat in die middel van nêrens van ‘n bus afklim, saam in ‘n lokomotief na ‘n gerestoureerde stasie toe ry en mekaar inderwaarheid op sy eie manier terug restoureer na die lewe.

LIESBET deur Leon van Nierop
Kategorie: Radioteater 2026-06-25

Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.

Ons stasies het meestal verval. Waar daar eers florerende, mooi stasies was waardeur reuse stoomlokomotiewe gery het, is daar deesdae maar min van oor. Maar wanneer ‘n nuwe toeristeroete uitgelê word, word die gesteelde spore vervang en word ‘n stoker opdrag gegee om ‘n legendariese ou lokomotief te restoureer. Terwyl Absalom dit doen, klim ‘n seun met ernstige leer- en leesprobleme (disleksie) van ‘n bus af. Hy kan saam met die stoker na sy eindbestemming in die lokomotief ry indien hy instem om die reuse-staalgedierte te was en te poleer. Gedurende hierdie reis het die twee ‘n onuitwisbare invloed op mekaar. Deon Lotz vertolk die rol van die stoker, en nuweling Rico Immelman is die seun. Dis ‘n unieke reis waar twee mense in 2025 terugreis na die verlede en weer mens word.

Van die regisseur – Leon van Nierop

Die idee is gebore toe ek die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat ek in my navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Boonop het ek die kans gehad om die gesoute Deon Lotz ‘n Noord-Kaapse aksent te gee, en hom teenoor die 17-jarige Rico Immelman van TV se Spooksoekers te plaas. Daardie kombinasie stemme het nuwe lewe aan die teks gegee. Ook Frikkie Wallis se trein-byklanke waarvan hy sommige self moes vervaardig. Ek het ook iemand ontmoet wat aan disleksie ly en eerstehands kon beskryf hoe moeilik dit is om die letters agtermekaar te plaas. Letters en spoorstawe ontmoet in hierdie drama.  

Luister weer na “Die Potplant,” ‘n kabaret op radio

‘n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hul omstandighede.

Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om uit te sterf en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef. 

Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke soos ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed; wie is nou eintlik die vyand – Vismot, die grommige-gogga wat aan alles knaag, óf die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie.

En die belangrikste – is die gras werklik groener aan die ander kant…

DIE POTPLANT deur Karli Heine
Kategorie: Radioteater 2026-06-18

‘n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hulle omstandighede. Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om te vrek, en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef. Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke, soos Ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed: Wie is nou eintlik die vyand – Vismot, die grommige-gogga wat aan alles knaag, óf die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie. En die belangrikste – Is die gras werklik groener aan die ander kant? Die spelers is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Musiek deur Grethe van der Merwe. Frieda van den Heever is die regisseur.

Dié drama is deur Karli Heine geskep en vir radio verwerk, waar die musiek en ’n paar kern-karakters ontstaan het uit die oorspronklike kabaret. “Die Potplant: ’n Tragedie” is vir die eerste keer in 2024 opgevoer by KKNK se Blitsteater.

Agter van links na regs: Frieda van den Heever, Joanie Combrink en Lochner de Kock. Voor: Esther von Waltsleben, Marion Holm, en sittend is Karli Heine

Karli vertel, “die idee het begin toe dit vreemd voel om ’n boom-karakter binnenshuis te plaas. Wat het plant-gedagtes en staan onder dak?”

Die spelers is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Met musiek deur Grethe van der Merwe en Frieda van den Heever as die regisseur in die ateljee.

Die Potplant deur Karli Hiene, Donderdagaand 18 Junie in Radioteater om 10 oor 9 op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Jy hoor kabaret op radio.

Luister weer na “Een, twee, drie, Blok myself”

Die radiodrama Een, Twee, Drie, Blok Myself, geskryf en geregisseer deur Karen Wessels, is ’n spanningsvolle sielkundige riller wat diep delf in die onderdrukte psige van die mens en die brose, soms wrede grens tussen werklikheid en illusie. Dit was ‘n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Die rolverdeling sluit sterk karakteruitbeeldings deur Amanda Strydom, Pierre Breytenbach, Natasja Jacobs, Pietie Beyers, Zane Meas en Jakkie Groenewald in. Elke karakter is ’n draer van hul eie pyn, geheime en morele grys areas.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is ’n rou en eerlike drama wat vrae stel oor identiteit, herinneringe en of ’n mens werklik van jouself kan wegkruip. Die storie en akteurs se spel kruip onder jou vel in, smokkel met jou kop, en dwing jou om te vra hoe veilig jou eie herinneringe werklik is wanneer die waarheid begin terugveg.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is Donderdagaand 4 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG App te hoor en is dan beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die storie

Die drama speel af in die hede en kombineer spanningsvolle, emosionele diepte en subtiele humor teen die agtergrond van ’n plattelandse kroeg en ’n afgesonderde gemeenskap.

Monika, ’n voormalige polisievrou met ’n geskiedenis van verslawing en trauma, word gekonfronteer met haar verlede wanneer haar onderdrukte herinneringe begin terugkeer. Die verhaal ondersoek temas soos die onderdrukking van die werklikheid en die blywende impak van onopgeloste trauma.

Wanneer ’n aantreklike vreemdeling, Walter, opdaag en haar wêreld stadig begin ontwrig, word dit duidelik dat alles nie pluis is nie. Soos Monika se werklikheid begin verbrokkel, word die luisteraar meegesleur in ’n spanningsvolle onthulling van verborge geheime, skuldgevoel, en ’n verlede wat weier om begrawe te bly. Die drama word gedra deur intense dialoog, atmosferiese klankontwerp en musiek wat as emosionele leitmotief dien.

Die riller maak sterk gebruik van musiek – veral die liedjie “Sonder Jou” deur Gé Korsten dien as ‘n ontstellende voorbode en ‘n emosionele sneller. Regie word ook behartig deur Karen Wessels.

Agter Zane Meas, Pietie Beyers, Pierre Breytenbach, voor Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald copy

Agter van links na regs: Zane Meas, Pietie Beyers en Pierre Breytenbach. Voor is Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald.